Sunday, January 20, 2013

NOG BOTOX

Die Botox behandeling moes herhaal word, maar hierdie keer wou ek dit nie weer doen soos laas nie want ek het nie kans gesien dat Henru weer so seer kry nie. Ek het met Dr Smuts by die Wilgers Hospitaal gepraat, maar hy wou dit nie anders doen as laas (so in die stoel in die spreekkamer nie) en het my na Dr Colyn verwys sodat hulle dit onder narkose kon doen.
Met ons besoek het Dr Colyn gesê dit help nie dat hy die Botox doen en hy opereer nie die heupe nie, want die heupe is besig om te ontwrig. Dit het my gevoel of hy my in 'n rigting forseer en ek was nie gemaklik daarmee nie. Ek het met Christa Kritzinger gepraat en sy het aanbeveel dat ek moet wag. Dit is een van die probleme wat gebeur en ons moes eers kyk wat ons kan doen om die heupe te probeer fikseer anders as met 'n operasie. 'n Operasie in Henru se geval is die laaste uitweg.
Sy het my na Estelle Brown verwys in Johannesburg wie ook 'n NDT terapeut is en sy het ook ander apparaat wat mens vir Henru kan gebruik. Haar voorstel was ook soos die van Christa, dat ons 'n operasie as die laaste uitweg sal gebruik. Daar was nie sodanige ontwrigting nie en as ons Henru in die "postbox" kan laat staan vir meer gewig op die heupe, kan dit dalk iets doen.

Die "POST BOX"


 
Dit is 'n hout kassie met 'n deur wat mens agter oopmaak. Binne in is die met spons uitgevoer om die hout bietjie sagter te maak. Henru word dan in die kassie staan gemaak en ondersteun met die spalkies sodat hy in die kas kan staan. Die deur word toegemaak agter sy rug en met knippies vasgeknip om dit toe te hou en dan staan hy so vir ongeveer 20-30minute. Daarna roteer ons hom na sy bed dat hy bietjie kan rus, dan na sy rolstoel, na die "staan bed" en weer na sy bed toe, "post box" toe, stoel, staan en so gaan ons die hele dag deur en nog met terapie tussen in ook.


Die probleem met die "post box" was egter dat hy vooroor gaan lê op die tafel. As mens egter op die tafel klop, dan strek hy regop, maar dan gaan lê hy weer op die blad. So kan mens hom dus nie net in die "post box" plaas en aangaan met iets anders nie, ons hou aan klop om te help om dan ook die rug en nekspiere te oefen en terselfdertyd dra hy dan ook gewig op die heupe.


 

 

Christa en Estelle het albei steeds die Botox aanbeveel omdat daar sukses is daarmee. Dit word in die spier ingespuit wat basies die sterk spier is. Dit het dan die gevolg dat die sterk spier bietjie "ontspan" vir ongeveer 3 maande en dan kan mens die swak spier oefen. Soos by die bo-arm byvoorbeeld sal mens dit in die biseps spuit om die triseps te oefen. 
Na 'n groot gesukkel en motiveringsbriewe en R10 000 verder, kon ons die Botox doen. 
Christa het my verwys na Dr. Marè by Eugene Marais Hospitaal waar hy dit toe gedoen het onder narkose op 19 Maart 2004. 
Ten spyte daarvan dat dit onder narkose gedoen is, huil Henru hartverskeurend toe hy uit die teater kom.

Ons gaan huis toe en elke dag is daar tog 'n baie effense beterskap en kan mens agterkom dat die spiere tog bietjie ontspan en die spasmas bietjie verlig

No comments:

Post a Comment