Thursday, January 24, 2013

NUWE SKOOL IN CENTURION

Hier was geen skole vir kinders met spesiale behoeftes of gestremdes hier in die omgewing van Centurion nie.  Sodanige kinders wat iets kan doen, gaan na Alma, Prinshoff en Nuwe Hoop skole, maar kinders soos Henru het geen plek gehad nie.

Met Henru se operasies in 2006 het ek hom ook nie meer na Ilze se "speelgroep" geneem nie omdat hy so baie nie daar sou wees nie.

Daar het ek egter ook met van die ander kinders se ouers ook gepraat oor die versorging van ons kinders en was ek deel van die bestuurspan wat betrokke was by die stigting van "Maranatha Bana" skool in Lyttelton.

Die skool open Februarie 2007 en by die geleentheid braai ek skape op die spit en kuier ons te lekker saam daar.  Wat dit ook nog lekkerder gemaak het, was die feit dat die ander kinders, Hannes, Francois en Amòr ook die dag saam met ons kon deurbring en ons hierdie dag kon saam deel.

Terwyl ek gebraai het, het Bridgette en Lyn Bowker vir my na Henru omgesien saam met Roselinah. Lyn se dogtertjie, Ashley, en Henru het op die komberse onder 'n boom gelê en "gesels" en praat ons sedertdien van Henru se "girlfriend"



Henru en Roselinah is elke oggend skool toe en daar is baie stimulasie gedoen vir die kinders. Dit het my ook gespaar op die ritte fisio toe, want Bridgette het sommer by die skool kom terapie gee en toegesien dat die kindertjies korrek geposisioneer word. Hulle het ook hulle "mors dae" gehad by die skool, en hier het hulle Henru bietjie geverf.







 
Ons moes soggens al 06:30 ry om skool toe te gaan en eers vir Henru en Roselinah by die skool af te laai en daarna vir Hannes by sy skool en vir my om werk toe te gaan. In die winter is dit ook darem baie vroeg en dan het hy so op pad skool toe so bietjie geslaap.


No comments:

Post a Comment