Wednesday, January 16, 2013

'n TERUGSLAG

Henru het gewoonlik tussen 06:00 tot 07:30 wakker geword.

8 Julie 2001 het dit nie gebeur nie en ek het eers teen 09:00 wakker geword, maar Henru het nie wakker geword nie. As ek hom probeer wakker maak, fladder sy ooglede so en val dan toe en slaap hy weer. Hy wou niks drink nie en toe ek Dr Zorio bel, het hy gesê ons moes hom dringend by die hospitaal kry vir 'n brein scan.

Die scan het gewys dat die vog op die brein toegeneem het en dus verhoogde drukking het. Hy het ook koors gehad wat nie wou breek nie en Dr Zorio het 'n "lumber punch" gedoen. Omdat die personeel Henru nie geken het nie en blykbaar nie geweet het hoe om hom te hanteer nie, het die dokter vir my gewys wat om te doen en hom vas te hou terwyl hulle dit doen. Toe hy die vloeistof in die spuit sien, het hy gesê dis breinvliesontsteking en is ons in kwarantyn geplaas om te wag vir die uitslag - was dit die ernstige een of die minder ernstige een.

Henru was weereens kritiek. Die uitslae is later ontvang en was dit gelukkig die minder ernstige voorval van breinvliesontsteking. So is hy behandel maar dit wou nie beter nie. 17 Julie 2001 se scan het Dr Pitcher by ons in die kamer kom staan en met ons gepraat. (Soos elke keer gebeur het, het my Pa-hulle saamgegaan).

Henru se toestand was uiters ernstig. Daar was ontsteking in die vog wat in die skedel was en daar moet geopereer word. Ons is voorberei dat Henru onder narkose kan sterf. Hulle moet twee gaatjies weerskante van die skedel boor "bur holes" om die vog te dreineer. Dit is nie bekend wat die graad van die vog is nie. Dit kan net waterig wees of dit kan etterig wees wat 'n dik vloeistof sal wees. Die gevaar is daarin geleë dat, sodra daar deur die skedel geboor word en die drukking kan verlig, kan dit by die gaatjies uitspuit en daardie vinnige vermindering van die drukking kan verdere skade veroorsaak en selfs sy dood.

Hulle moes egter eers wag om te probeer om die koors te verlaag wat nog steeds hoog was. Setpille is telkens gebruik om die koors te breek, maar soos die pille uitwerk, tel die koors weer op. Dr Pitcher was self aangedaan toe hy met ons gepraat het en het aangebied dat ons kalmeerpille moes drink, maar ek het my berus: “Laat U wil geskied”.

Dr Pitcher het ook gesê met dit wat op die scans waargeneem kan word, sal Henru in 'n vegetatiewe staat wees en nooit enigiets kan doen nie. Hy sal nie self kan eet, drink, sit , loop, sien - niks nie.

18 Julie 2001 wou sy koors nie breek nie en met Dr Zorio se besoek het hy gesê dat daar dieselfde dag nog geopereer moes word om die drukking te verlig, dit maak nou nie meer saak van die koors nie. Die ontsteking raak uiters kritiek en elke dag raak net 'n groter risiko. Henru is 17:00 teater toe en het 19:20 uitgekom. Beide dokters was tevrede en die vog was nie etterig nie, dit was steeds van die bloeding wat die drukking opgebou het en dit het die ontsteking veroorsaak.

Sy toestand het daarna verbeter en 28 Julie 2001 is hy ontslaan en is ons terug huis toe.

 

No comments:

Post a Comment