Thursday, January 31, 2013

SKOLIOSE

Sedert die ongeluk het Henru se liggaam na die regterkant toe oorgetrek met die gevolg dat hy telkens korrek geposisioneer moes word. Om ook te help daarvoor, is sy stoel spesiaal gemaak dat hy ondersteuning gekry het van die kante om sy rug regop te hou, maar met die jare en groei, kon dit nie permanent reg gehou word nie. Dit het ook veroorsaak dat hy nie reg kon sit nie, met ander woorde sy pelvis was nie altyd gelyk soos mens normaalweg sou sit nie. Die ander probleem was ook dat ek nie elke keer kon toesien dat dit korrek was nie. Ten spyte daarvan dat Roselinah baie goed na Henru omgesien het, het sy tog maar in gebreke gebly om dinge 100% korrek te doen. Soms as ek by die huis kom, het Henru nie korrek in die stoel gesit of op die wig kussing gelê nie en moes ek hom korrek posisioneer.


Behalwe hierdie, was daar ook die grootste bydraende faktor van die heupe wat ontwrig. Met elke ondersoek by Dr. Pretorius het hy ons gekomplimenteer met die versorging van Henru. Hy het telkens gesê dat hy nog niks nadelig by Henru kon vind nie, nie eers enige vel probleme nie en ook die feit dat Henru steeds doek dra, het hy nog nooit "brand boude" gehad nie.
Nadat die penne en plaat uit die heup verwyder is en met die groei proses, het beide Henru se heupe weer stelselmatig begin agteruitgaan, so ook die rug.
Met die opvolgkonsultasies het Dr. Pretorius telkens aangedui hoe die heupe weer ontwrig en die keer was dit albei heupe. Die pelvis lyn was ook skeef en die hele rug het stelselmatig begin krom trek. Dit het ook veroorsaak dat Henru 'n "bergie" gevorm het by die onderste rib soos die liggaam skeef getrek het. Ook die rug was al heeltemal krom getrek.


 
 
 
 
 
 
 

Dr. Pretorius het my ook verwys na Dr. Coetzee vir 'n ondersoek van die rug en sy aanbeveling. maar wat Dr. Pretorius gesê het, is dat die pelvis eers herstel sal moet word voordat iets aan die rug gedoen sal word, maar hy wil Dr. Coetzee se opinie daaroor inwin.
Dr. Coetzee se bevinding was dat Henru se rug reeds ongeveer op 60º staan soos dit krom getrek het. Hy het ook aanbeveel dat die pelvis gedoen moet word en dan 'n rugstut voorgeskryf. Toe ons die rugstut kry, het dit die rug darem terug gebring na ongeveer 40º.
26 April 2011 is Henru toe geopereer aan beide heupe waar penne en plate ingesit is.




Hierdie was amper vir my die ergste ondervinding wat ek nog beleef het. Dit was ook 'n 6 uur operasie en Henru het eerstens gesukkel om by te kom na die teater. Daarna het hy geskreeu van die seer en daar was ook die keer geen gips wat die bene bymekaar gehou het nie.
Oor die diens in die hospitaal kan mens amper nie eers oor praat nie, want daar was geen diens nie. Behalwe soos in al die ander hospitale se ondervinding het hierdie personeel gespesialiseer in die geraas wat hulle gemaak het! Dit het soms soos 'n hoenderplaas geklink soos hulle gepraat het.
Daar was geen hulp hoegenaamd met Henru nie. Ek moes soebat om sy pyn medikasie betyds te kry en het geen hulp gekry om sy doeke om te ruil en het later my eie plan geprakseer om dit met die minste ongemak vir Henru te kon doen. As ek hulle nie gevra het nie, het hulle nie die nodige gebring om hom te was nie en ek moes elke dag vra dat hulle sy beddegoed moes kom ruil. As dit 'n staatshospitaal was, was dit 'n ander saak, maar hierdie was een van die Netcare hospitale.
Daar is byvoorbeeld 'n man opgeneem in dieselfde saal as Henru wat nierdialise moes kry. Die personeel het dit nie eers op tyd kom doen nie.  Die arme man het so gegil van die pyne en niemand het kom aandag gee nie. Ek het telkens die klokkie gelui om aandag daarop te vestig.
Saans was daar geen personeel te sien in die gange nie en kon ek nie verstaan hoekom daar niemand in sig was nie. Ek het aanvanklik gedink dit was oor dit Paasnaweek was en daar nie baie pasiënte was nie, maar toe ek Henru se bottel in die kombuis in die mikrogolfoond wou gaan warm maak, kon ek die deur amper nie oopkry nie, toe is almal in daardie klein kombuisie saam gedruk waar hulle eet en moes ek eers vra dat hulle uitkom sodat ek by die mikrogolfoond kon uitkom.
Henru moes 7 dae daar bly maar na die 5de dag toe die dreineringspype verwyder is en die dokter tevrede was met sy eerste besoek daarna, het ek hom versoek om huis toe te gaan waar ek in rus en vrede na Henru kon omsien. Ek het dit in elk geval gedoen sonder die hulp van die personeel en ek moes daarvoor betaal, dus kon ek dit gratis by die huis gaan doen. Ek het 'n formele klag ingedien na die tyd, maar al wat ek terug gehoor het, was dat hulle sal aandag gee aan die probleem en om verskoning vra vir enige ongerief wat ons verduur het en daar het dit gebly.
Na die operasie was dit ook natuurlik soos elke keer waar Henru weier om te eet of te drink. Alles moes weer met spuite ingegee word en die vloeistof met "Thick & Easy" gegee word. Dit het my moedeloos gemaak en was 'n voltydse taak om die kos en vloeistowwe so in te gee.
Dit het nou al twee weke so aangegaan waar Henru nie geëet of gedrink het nie en saam met sy gehuil en spasmas sou ek enigiets doen om dit vir hom makliker te maak.
Ek het te hore gekom van "Body Talk" by my tannie Sus op Reitz van 'n persoon op Bethlehem wie dit doen.  Ek het hom gekontak, maar hy het my meegedeel dat hier ook iemand in Pretoria is wie dit doen en het 'n afspraak gemaak by die dame, Arjen Faanhof. 
Ek was BAIE skepties daaroor en die dag van die afspraak het ek gedink om dit te kanselleer, maar het tog gegaan.
Arjen het alles uitgevra oor Henru en ek het vir haar foto’s van hom gewys (hy was nie saam met my daar nie) en sy het toe gesê sy gaan my as medium gebruik om met Henru te werk. Ek het werklik by myself gedink dis die grootste klomp snert, maar het nietemin voortgegaan daarmee.
Na die tyd het sy my vertel dat Henru baie woede het jeens die ongeluk en situasie waarin hy verkeer. Sy het my ook vertel dat hy "sê" dat sy kos te koud is as ek dit vir hom gee en het gevra hoe ek die kos gee. Ek het haar gesê dat ek alles in orde kry omdat ek alleen is en dan by die bank sit waar ek hom voer terwyl hy op my skoot sit. Sy etenstyd is 18:00 saans. Dus is die bottel en die kos daar by my binne reik afstand. Ek gee dan eerste vir hom ongeveer 50ml melk met die medikasie in, dan gee ek sy kos en 19:00 gee ek sy bottel. Sy het aanbeveel dat ek die kos moes warm maak.
Verder het sy ook aan my die "tapping" proses verduidelik, gedemonstreer en moes ek dit dan op Henru gaan toepas wanneer ek by die huis kom en dit sou help dat hy sou eet en drink.
Die "tapping" is waar jy jou een hand plaas op die plek waar die nek en die kop aanmekaar is en met die ander hand "tap" jy op die voorkop en dan op die bors. So herhaal jy die proses maar skuif elke keer die hand met die handbreedte oor na die voorkop. Met elke skuif word die "tapping " gedoen tot die voorkop bereik is. Dan word die hande langs die kop gesit bokant die ore. Een hand word dan gebruik om die "tapping" te doen en dan weer aan die ander kant.
Dit was vir my lagwekkend, maar ek is daar weg en die aand met voeding het ek Henru probeer kos gee, maar hy het geweier soos altyd. Ek het toe die "tapping " gedoen en steeds het hy geweier om te eet. Amòr het my herinner dat ek die kos moes warmer maak, wat ek toe gedoen het en was verstom dat hy begin eet het.
Teen 19:00 wou ek die bottel gee. Hy het dit uit sy mond gedruk en het steeds geweier. Ek het dit ook bietjie warmer gemaak, die "tapping" gedoen en weer probeer en hy het 'n hele bottel leeg gedrink! Weer het ek gedink dis maar net toeval, maar elke keer as hy nie wil eet of drink, doen ek die "tapping" en dan drink hy.
Die spasmas kon ons ook onder beheer bring deur die gebruik van Lioresal en Ativan. Alhoewel hy effens meer geslaap het, het hy ten minste begin bedaar en kalmer raak met die spasmas wat nie meer so intens was nie.


No comments:

Post a Comment