Monday, January 28, 2013

2009

2009 was relatief rustig in vergelyking met ander jare. Weens die feit van sy bene wat vreeslik bros is, het die dokter aanbeveel dat ons liewer nie moet voortgaan met die perde terapie nie. Behalwe dit, was die kostes ook bietjie bo ons vermoë en die ander feit was die ryery wat 'n gejaag is van die een plek na die ander.
Ek het in hierdie tyd ook vir Henru uit die skool gehaal aangesien dit ook te veel kostes meegebring het. Ek het niks teen die skool nie, dis uitstekend vir kinders met spesiale behoeftes en ja, daar is stimulasie by die skool met die nodige toesig. maar behalwe hierdie, ek moes begin aanvaar dat ons nooit iets met Henru se hande gaan regkry nie. Dis nou al 9 jaar wat ons intensief met die hande werk. Dis is spalkies en Botox en elke dag se tuis oefening asook die fisioterapie, maar daar is geen "wen" van die hande nie. Ek moet Roselinah 'n salaris betaal om Henru te versorg en die skool se vereiste is dat daar 'n fasiliteerder saam met sulke erg gestremde kinders by die skool moet wees. Ek moet in die oggend hom vroeg by die skool gaan aflaai en weer teen 13:00 gaan haal sodat Roselinah haar ander werk by die huis kan klaar maak. Dit is ook ekstra ryery. Dus betaal ek Roselinah en die skool om Henru te versorg. Roselinah het al die "werk" by die skool gedoen omdat Henru nie sy hande kan gebruik nie en het ek geredeneer ek betaal die skool dat Roselinah daar kan gaan speel.
Behalwe hierdie feit, is een van die skool reëls dat wanneer die kindertjies net effens siek is, hulle by die huis moes bly. Daar was gevalle waar mens ooglopend kon sien dat van die kinders verkoue en griep simptome gehad het, maar dan het die ouers hulle steeds by die skool gaan aflaai en dit het tot gevolg gehad dat Henru (en nie net hy nie maar ander kinders ook) gereeld siek geword het met verkoue en griep.
Paul Gerber van Monitornet het vir my kameras geskenk waarmee ek kon monitor wat Roselinah gedoen of nie gedoen het nie en derhalwe kon ek beheer oor Henru se tuis versorging uitoefen. Dit help ook baie dat as daar iets gebeur en Roselinah bel my, kan ek sien wat aangaan en haar adviseur wat om te doen tot ek by die huis is om oor te neem.
Ek het nog steeds na Bridgette gegaan vir die fisio een keer per week, maar dit was steeds by die skool.
Henru het ook op 'n stadium vreeslik begin opgooi. Dit was iets vreesliks want dit het net aangehou totdat daar niks meer uitgekom het nie. Hy is dan opgeneem in die hospitaal met 'n drup om dehidrasie te voorkom en alles, kry medikasie, word na 'n paar dae ontslaan en so het dit aangegaan tot ek naderhand moedeloos was. Ek het toe besluit om te toets watter kos hy nie kon hanteer nie deur stelselmatig te begin en alles neer te skryf en tot my verbasing was dit Jogurt wat die sondebok was. Ons het altyd in die middae vir hom vrugte met Jogurt gegee om te eet en blykbaar is sy liggaam nie daarmee tevrede nie. Ek het gedink hy sal dit ontgroei, maar dit gaan vandag nog so. Een of twee teelepels kan hy verdra, maar meer as dit dan begin hy opgooi. Dit is ook nie 'n kwessie van beesmelk nie, want ek het ander jogurt ook probeer, dit is almal dieselfde reaksie. Tog kan hy koffie en tee met beesmelk in hanteer, maar glad nie skoon bees of bokmelk nie. Hy is nog al die jare sedert hy uit die hospitaal uitgekom het op soja melk.
Oktober 2009 toe hy weer met so sessie in die hospitaal was en ons gegaan het vir die opvolg, het Dr Lippert 'n brein scan laat neem en mens kon duidelik die skok en ongeloof op sy gesig waarneem. Hy het my toe verduidelik dat, volgens die scan, Henru nie in staat moet wees om enigiets te doen wat hy doen nie soos emosies toon en eet en drink nie. Hy het vir my gesê Henru het ongeveer slegs 10% van sy brein oor, die res is vog en Henru is eintlik 'n waterhofie.




Ek moet hier erkenning gee aan ons Vader wie vir my die krag en genade en ek weet nie wat alles gee nie om aan te gaan. As ek dit moes verneem het van iemand anders se kind, sou ek wonder hoe die ouers dit hanteer en daarmee saamleef, maar hier is ek self in die situasie en ek hanteer en leef daarmee saam wat ek nie kan verklaar nie. Ek kry krag van 'n onuitputlike bron en ek kry genade om elke dag daarmee saam te leef. Mens dink dikwels jy bid en dit voel of jy teen die dak vas bid en die Here jou ignoreer, maar hoe anders kan mens aangaan as Hy nie daar is nie? Dis soos die volgende gedeelte sê:

"One day, a man asked God for a bunch of FLOWERS,
but he instead got a CACTUS with THORNS,
Later he asked for a BUTTERFLY,
but he instead got WORMS.
But a few days later, he noticed that the CACTUS bloomed with a beautiful FLOWER
and the WORMS became BUTTERFLIES.

Moral of the Story: God wants us to wait for the right time
because he knows WHEN and WHAT is BEST that we deserve …




No comments:

Post a Comment