Dit
was vir my opvallend dat wanneer ek Henru voer of sy bottel gee, het hy met die
eerste hap wat hy neem of sodra die bottel tietie in sy mond is, hy sy gesig
getrek het so asof dit vir hom sleg was. Ek het gedink dis maar sy manier om te
wys dat die kos dalk nie lekker is of iets, maar het hom na 'n tandarts in
Bethlehem geneem. Ek het die dokter onder andere gevra na die boonste vier en
onderste vier voorste tande wat verkleur het. Hy het na sy ondersoek vir my
gesê dat die tande feitlik geen emalje meer oorhet nie en dit is hoekom die
tande dan eintlik seer is wanneer hy iets daarop neem soos kos, alhoewel dit
nog melktande was, was dit ook vir Henru sensitief. Ek het twee opsies gehad -
hy kon die tande herstel, maar dan moes Henru ongeveer elke 3 maande narkose
kry of ons kan eenmalig narkose gee en die tande almal trek en dit sal vir hom
beter wees. Die tandjies is toe almal 1 Februarie 2002 in Bethlehem MediClinic
getrek en toe is hy behoorlik haasbek.
My haasbek seuntjie en dit was al in
2007 toe het die tande nog nie uitgekom nie.
11
Februarie 2002 vind ek uit van 'n "Neuro Ontwikkelings terapeut" op
Harrismith, Suzaan Botes, wie op Harrismith praktiseer. Sy kom evalueer Henru by die huis en sien dit
as 'n uitdaging vir haar om met hom te werk, aangesien sy nog redelik jonk in
die beroep is. Aanvanklik sal sy begin met twee sessie per week en dan dalk
drie, afhangende van hoe hy reageer.
20
Februarie 2002 het ek met hom op my skoot gesit toe hy net eenvoudig ophou met
asemhaal soos wanneer 'n kind sy asem uithuil. Ek het die metodes toegepas wat
Dr Döhne ons geleer het met Amòr deur hom half om te dop sodat sy kop laer as
sy hart sak en hy het gesnak na sy asem en herstel.
Ek het
enigiets probeer om Henru te stimuleer of te kyk of ons enigsins iets kon
verbeter. Ek het hom geneem na Hannelie Kemp wie "brain gym" gedoen
het deur elektrodes te koppel aan sy kop aan 'n rekenaar en dan reageer hy
daarop. Soms was daar reaksies, maar dikwels was daar nie veel nie. Ons het vir
'n jaar daarmee aangegaan, maar kon nie veel bereik nie en het dit toe gestaak.
Soggens
wanneer ek opstaan om klaar te maak vir werk, is Henru ook al wakker. Soos ek
aangaan, vertel ek hom hoe die dag lyk - sonskyn, bewolk, reën of wat ook al.
Ek gesels met hom soos ek sy medikasie gee en as ek hom aantrek sê ek vir hom
watter klere en kleure ek vir hom aantrek. Hy maak dan sulke geluidjies soos
wat 'n baba van ongeveer drie maande sal maak as mens met hulle gesels en dis
so asof hy saam gesels. As ek Bybel lees en bid, doen ek dit hardop dat hy ook
kan hoor en hy voeg sy stem so tussenin by.
Die
oggend van 16 April 2002 het Henru op die bed in die kamer gelê en ek het by
die rekenaar gesit toe ek waarneem dat hy skielik 'n tipe van rukbeweging het.
Ek het hom dopgehou en gesien dat dit met gereëlde tussenposes gebeur. Ek het eers gedink hy hik, maar daar was geen
geluid nie. Soos wanneer mens hik en jou lyf ruk, het Henru se arms omhoog
getrek en sy kop het na links getrek. Sy bene het ook opgetrek. Dan kan mens
waarneem hoe hy soort van ontspan en dan weer die rukking. Weer bel ek vir Dr
Zorio en hy sê ek moet hom net monitor en as daar iets drasties gebeur, moet ek
hom weer in kennis stel. Dit het daarna gereëld gebeur, maar opvallend was dat
dit altyd gebeur het kort nadat hy vas en diep geslaap het en dan wakker word.
18
April 2002 kon hy die eerste keer sy hand by sy mond kry en aan sy wysvinger
suig.
2 Mei
2002 het ek sommer in trane uitgebars! Ek
het met hom gespeel en hom gekielie en vir die eerste keer sedert 18 Desember
2001 het hy weer so hardop uit sy maag gelag. Dit was vir my vreeslik toe ek
daaraan dink dat hy amper 2 jaar oud is en hoe ander kindertjies van sy
ouderdom sou reageer en al kon rond gaan en hier lê hy dag vir dag op die bed
en sit in sy stoel en kan nie ers TV kyk nie.
Oom
Tjol Nel van BG Nel Sweiswerke op Bethlehem vra ons dat ons Henru moes inbring
na sy werkswinkel sodat hy kan kyk of hy nie iets kan maak vir Henru om te kan
staan nie. Hy het die idee van 'n bed wat dan kan opswaai sodat hy kan staan.
Ons meet Henru se lengte en hy is toe presies een meter lank. Oom Tjol het nog die opmerking gemaak dat die
bewering is dat as mens 'n kind se lengte meet wanneer hy 2 jaar oud is, sal sy
lengte verdubbel teen die tyd dat hy volgroeid is en dus het hy besluit om die
"staan bed" so bietjie langer as 2 meter te maak.
Hier
was dit nou al in Pretoria waar hy op die "staan bed" vasgemaak is
met sy voet en hand spalke asook armspalke aan om sy spiere te strek. My klein
stokmannetjie! 16 Mei 2002 gaan ons weer vir 'n opvolgondersoek na Dr Potgieter
in Bloemfontein en hy bevestig weereens dat daar geen sig te bespeur is by
Henru nie, maar steeds is daar "lewe" in die senuwees. Ons doen ook
stimulasie met Henru deur 'n flitsie te gebruik om die pupille te oefen en dan
ook gekleurde plastiek skywe voor die flits te hou vir verskillende kleure.
Daar is wel effense reaksie van die pupille, maar geen teken dat hy iets volg
nie.
No comments:
Post a Comment