Wednesday, January 16, 2013

SHUNT

6 Augustus 2001
Henru ontwikkel 'n vel uitslag wat soos masels vertoon. Ek het dit die eerste keer gesien die aand in ICU met die ongeluk. Ek doen navraag by Dr Pitcher en hy deel my mee dat dit 'n probleem kan wees en ek moet hom goed monitor, dit dui op die drukking wat steeds verhoog. Indien dit nie stabiliseer nie, sal hy weer moet hospitaal toe gaan. Die uitslag stabiliseer en word nie meer nie en gaan later byna weg.

13 Augustus 2001
Henru is soos elke ander oggend en ek gaan werk toe. Hy het nog bietjie van die uitslag, maar dit word steeds beter. Ek gaan kort-kort huis toe om te kyk hoe dit gaan. Toe ek 16:00 by die huis kom, was hy in 'n totale spasma. Soos hy op sy rug lê, het sy liggaam heeltemal na links getrek. Sy linker arm was so styf dat dit in die lug gestaan het en mens kon dit glad nie laat sak nie. Ook het sy gesig in sulke rooi vlekke uitgeslaan as hy sy bottel drink. Ek bel Dr Zorio en weer moet ons onmiddellik deurgaan vir 'n scan.

22:30 sien Dr Zorio ons by ongevalle en toe hy Henru met sy stywe arm en rooi gesig sien, het hy net gesê: "Gee! What is going on here".

Henru is gemonitor en 16 Augustus 2001 sê Dr Zorio dat hy 'n shunt sal moet insit - dit is die enigste oplossing. Die "shunt" is 'n pypie wat in die skedel geplaas word en dan word die pypie onder die vel tot in die maag gelei waar dit kan dreineer en die vog word dus uit die skedel weggelei deur die pypie tot in die maag. Daar is egter ook risiko’s aan verbonde, want die pypie kan verstop en ontsteking veroorsaak, maar dit is nou die enigste uitweg.

17 Augustus 2001
Hy is 11:00 teater toe en is 12:50 uit die teater gestoot met sy shunt. Agter sy oor was 'n halfmaan snit van ongeveer 5cm en dan op sy maag ook een van ongeveer 5cm.

Dr Zorio het verduidelik dat die gaatjie in die skedel geboor word en die pypie in die skedel in die middel by die naat van die brein lobbe geplaas word. Dan word sy lyf reguit gemaak met sy nek en 'n staal pyp word van die snit agter die oor tot by die maag onder die vel deurgedruk. Die plastiese pypie word dan deur die staal pyp getrek en die staal pyp word weer verwyder, dan bly die plastiese pyp agter. 'n Redelike lengte word dan by die snit in die maag gesit wat dan stelselmatig met sy groei uit die buik getrek word. Henru was egter baie slaperig, maar het die volgende dag selfs gelyk of hy glimlag.

Dr Zorio het gesê dat dit goed was as hy so slaap, want ek moet in gedagte hou dat daar 'n breinoperasie op hom uitgevoer is deur die pypie by die naat tussen die brein lobbe te plaas. Die ventrikels in die brein was BAIE vergroot en moes ons maar nou net wag en kyk wat gebeur.

21 Augustus 2001 is hy weer ontslaan en kon ons weer huis toe gaan.


 



 



Hier kan die ventrikels duidelik gesien word hoe groot dit steeds is na byna 10 jaar, want dit is die laaste scans wat geneem is. Die shunt kan ook hier waargeneem word in die skedel


.

No comments:

Post a Comment