Ons was ongeveer 00:30 by die hospitaal. Japie het
mooi met ons gepraat en ons begelei na die Trauma ICU. Na al die ontsmettings
prosedures is ons gelei na 'n glas "cubicle" waar Henru gelê het met
sy kaal lyfie, sonder doek, met 'n kombersie oor sy onderlyfie. Wonder bo
wonder het hy geen ander sigbare uitwendige beserings opgedoen nie, net 'n
klein snytjie op sy ken asook een snytjie aan sy regterbeen aan die buitekant
langs die knie. Daar was ook klein skraap merkies in sy gesig en aan sy
voorkop. Verder het hy doodstil daar gelê met die monitors wat maar hulle
geluide maak, die asemhalingsmasjien, drade, pype en die lyn wat in sy borskas
is vir die toediening van medikasie.
Ons het die suster gegroet en gevra hoe dit gaan
waarop sy gesê het "Nie goed nie, hy het baie seergekry maar die dokter
sal u sê wat aangaan."
Daardie oggend (24 Februarie 2001) het die Pediater,
Dr Pitcher, by Henru sy rondtes gedoen. Hy het my meegedeel dat Henru uiters
kritiek is en dat hy baie ernstige hoofbeserings opgedoen het met erge brein
trauma. Hy weet nie wat die skade is nie en sal dit eers kan begin bepaal sodra
Henru begin bykom, maar hulle hou hom onder sedasie om die swelling en drukking
op die brein te probeer beperk. Medies gesproke is daar niks wat hy verder kon
doen nie en net die Here beskik oor wat die uitkoms gaan wees.
No comments:
Post a Comment