Sunday, January 20, 2013

'n GROTER HUIS

Met ons trek hier na Pretoria het ek 'n ou klein huisie gekry. Alhoewel dit 'n 3-slaapkamer huis was, kon ek een van die hangkaste nie eers in die een kamer kry nie en het dit in die sitkamer gestaan. Ek het net 'n ses maande kontrak geteken met die oog om te soek na 'n groter huis.
So gaan ek maar elke Donderdag as die "Rekord" koerant afgelewer word deur die advertensies en kyk ook elke moontlike boek wat ek kan kry vir huise, maar ek kry nie een wat in my prysklas val wat ek kan bekostig nie.  
Drie weke voor my kontrak verval, is daar 'n advertensie. Ek bel en die vrou, Sanette Bester, sê dat daar reeds iemand is wie ook belangstel, maar ek is welkom om te gaan kyk hoe lyk die huis.  
Die huis is perfek vir my en Henru. Dis ook drie slaapkamers, maar die kamers is groter. Daar is twee badkamers en die een het 'n stort, maar die beste van alles is die oopplan sit- en eetkamer met die kombuis. Daar sal voldoende spasie wees om Henru se bed in die sitkamer te sit en die erf is nie te groot om in stand te hou nie.  
Ek onderhandel met Sanette en Sarel en hulle sê hulle sal my laat weet wat hulle besluit.   
Ek onderhandel ook met die eienaar van die huis waar ek toe bly en hy is nie snaaks nie omdat ek nie 'n volle maand kan kennis gee nie.   Alles werk toe ook baie goed uit en dit is waar ek sê dit is nie toeval nie, maar die Here wat help en ek kry toe ook binne die volgende week iemand wie kan intrek sodra ek uittrek en dus is die eienaar nog meer tevrede.  
1 November 2004 trek ek na die nuwe huis en dit is 1000 keer beter as die vorige waar mens uit die huis moes gaan om jou gedagtes te verander en so bly ons nog steeds hier!
 

No comments:

Post a Comment