Saturday, February 9, 2013

9 FEBRUARIE2013

Jesus is dettol om sielswonde te ontsmet, die myprodol vir die pyn en die panamor om op te staan as jy geval het. Hy is ons apteek. Kry sonder voorskrif Sy liefde, Sy genade het geen bybetaling nie en Hy is nooit uit voorraad nie! Geniet al die Jesus liefde wat Hy ons bied.

Die 7de en 8ste was maar dieselfde as die ander dae, bietjie wakker in die oggend voordat ek werk toe gaan en slaap die res van die dag, behalwe wanneer ons fisio toe gaan.  Selfs daar by die fisio terwyl sy hom so klop, raak hy aan die slaap, maar ten minste begin die bors beter klink.  Donderdag en Vrydag was dit egter vir my 'n baie vreemde verskynsel wanneer hy wakker word so in die omgeweing van 16:00 tot 16:30 en wens ek dat ek die videos wat ek op my foon geneem het hier kon laai.  Hy giggel verskriklik!  Ek het by hom geburb, toe begin hy so lag dat die are in sy nek so uitdruk en hy so rooi in die gesig raak, dan sê ek vir hom "haal asem" dan haal hy asem en lag verder.  Dit gebeur ook nie net een keer nie of net 'n paar sekondes nie, hy hou aan lag.  Wanneer ek sy kos gee en ek maak net my keel skoon of gee 'n kuggie, dan moet ek eers wa got hy klaar lag en as hy sy bottel drink, dan suig hy so rukkie en bars uit van die lag.  Dis snaaks, maar ons geniet hierdie terdeë.  Hannes het ook langs hom op die bed gaan lê en sy hand vasgehou, dan giggel hy net so, dis te wonderlik vir woorde.
 
Laas nag  (Vrydag 8 Februarie) het hy nie veel geslaap die nag nie en het baie gehoes, wat ons wil hê met die bronchitus en moes ons vanoggend 08:00 weer by die fisio wees.  Ek het eer 04:10 in die bed geklim, die wekker gestel vir 06:00 vir sy medisyne en aan die slaap geraak.

06:00 toe die wekker afgaan, was Henru wakker en het ek sy medisyne gegee en gedink ek gaan net nog so 5 minute lê, wat natuurlik altyd 'n ramp is!  Ek skrik 07:47 (volgens die wekker voor my bed wat 2 minute voor is) wakker en spring met 'n vaart uit die bed.  Henru was ook wakker.  Ek was my hare want dit wil nooit net so kam as dit nie gewas is nie.  Ek trek aan en trek vir Henru 'n broek aan oor die doek.  Gelukkig is die fisioterapeut letterlik net om die hoek van ons en toe ek voor die spreekkamer stop, toe moes ek wag dat sy nog die spreekkamer oopsluit.

Henru se longe klink baie beter en daar is nie so baie slym soos voorheen nie en sy is tevrede.  Sy sê dat as daar iets gebeur, sy is op bystand en kan ek net bel.

Ek besluit toe dat Henru nou klaar in die kombi is en ek gaan gou sy hare sny want dit is vreeslik lank, nou lyk hy weer beter.



 



Ek is baie versigtig optimisties, want toe ons by die huis kom, het ek vir hom ontbyt en 'n bottel gegee en het hy nog nie geslaap nie teen 11:30.  Ek en Amor is in die sitkamer en hy begin bietjie kla in die stoel en ek sit hom op die bed neer.  Hy slaap so vir ongeveer 5 minute en is weer wakker en volg gesels.  Ek raak so vaak dat ek nie my oë kan oophou nie en gaan lê saam met hom op die bed in die kamer teen ongeveer 13:00.  Hy maak nog geluide, maar toe rak ek aan die slaap.

Net na 15:00 kom maak die kinders my wakker want hulle is op pad na 'n partytjie en sê dat Henru so af en toe geluide gemaak het.  Ek staan op en teen ongeveer 16:00 raak Henru bietjie aan die slaap nadat ek vir hom weer 'n bottel gegee het.  Hy slaap vir ongeveer 40 minute en is nog wakker teen 17:30.  Ek gee sy medisyne, kos en bottel en hy is weer so laf tot ongeveer 20:30 waarna hy slaap tot vanoggend (Sondag 10 Februarie 2013) 06:10 toe ek wakker word en sy medisyne gee en besluit ek gee ook sommer sy ontbyt, dan kan ons nog bietjie slaap tot 08:17 toe ek wakker word van 'n sms.  Ek gee hom weer bietjie tee en hy is nou nog wakker sonder enige klagtes nie.


oooOOOooo

"  'n Seuntjie het buite gespeel en hy was besig om vir hom huisies te bou en paaie te maak sodat hy met sy karretjies daarop kon ry. In die proses was daar n baie groot rots wat in sy pad was en hy het alles probeer om die rots geskuif te kry. Hy het dit getrek, hy het dit gestoot, hy het naderhand sy fietsie... gaan haal en 'n tou daarom vasgemaak en dit so probeer wegtrek, maar alles tevergeefs. Die sweet het hom afgetap, en hy het moedeloos langs sy pa gaan sit wat onder 'n boom op 'n bank gesit het, en hierdie hele petalje aankou het. Sy pa het hom vol liefde aangekyk en vir hom gevra: "Boetman het jy nou alles probeer?" Baie verontwaardig se hy vir sy pa: "Pappa het gesien hoe hard ek gesukkel het, ek is nou so moeg en die rots beweeg nie". Sy pa het saggies oor sy koppie gestreel, en vir hom gese: "Maar jy het nog nie als probeer nie". Boetman het opgespring en gese: "Maar pappa het gesien hoe sukkel ek" En toe antwoord sy pa in n sagte stem, "Nee my seun, jy het nog nie alles probeer nie, want jy het my nog nie gevra nie". Here hoe dikwels het ons hierdie vreeslike rots in ons pad, en niks wat ons doen of se beweeg dit nie, en as ons dan op 'n hopie neersak en ons wil huil van moedeloosheid, dan vra U so saggies: " My kind, het jy my al gevra" Ons erken vandag dat ons eers in ons eie krag probeer, en as niks wil werk nie, dan gaan ons na U toe as 'n laaste poging. Here, van hierdie dag af, onderneem ek om eerste by U Voete te gaan sit, dan het ek nie nodig om my eie kragte so uit te put nie.  "

 

Wednesday, February 6, 2013

6 FEBRUARIE 2013

Vandag het weer soos al die ander dae verloop: opgestaan, 06:00 Henru se medisyne gegee, werk toe, Amor 13:15 by die skool gaan haal en huis toe.  Henru slaap weer (steeds) toe ons by die huis kom. Tebogo rapporteer dat Henru nie wou eet nie, maar hy het sy bottel redelik gedrink.  Sy bors is baie nat en hy haal nie lekker asem nie.  Ek besluit dat hy nog net gisteraand se tablet van die antibiotika geneem het en moet seker eers kans gee dat die medikasie kan begin werk en gaan weer terug werk toe.

 
13:54 op 6 Februarie 2013
 
(Daar was sekere ongure karakters wie my beskuldig het dat ek lieg en Henru se situasie misbruik om simpatie te kry... dis soos hy meeste van die tyd lyk wanneer hy so slaap en slaap sonder om wakker te word) 


16:10 kom ek by die huis aan na werk en Henru word vir die eerste keer wakker.  Christa, die Spraakterapeut, kom kyk of sy kan werk, maar Henru se longe klink nie lekker nie en ek besluit dat ek gou gaan uitvind by Wilna Foot, 'n fisioterapeut naby ons of hulle kan help om hom professioneel te klop, stoom en die slym uit te suig.  So word daar gesorg en die ontvangsdame sê ons kan gou oorkom.

Dis wat ek haat van hierdie plek!  Ons is 1 minuut se ry van die spreekkamer af maar dit neem 10 minute om daar te kom met die verkeer!

Die fisioterapeut doen die klopwerk en Henru lag daaroor, dis vir hom of lekker, of kielierig of iets, maar hy lag.  Ons sit die pyp aan dat hy bietjie kan rook met die stoom en (die eerste keer wat ek so iets sien) met 'n elektroniese apparaat wat lyk soos 'n pen druk sy weerskante van sy neus vir die sinusholtes.  Toe na die suigpomp.  Dis ongelooflik hoeveel slym sy uitkry!  Goed en wel, die pyp word ook met bietjie water gespoel, maar dis ongeveer 500ml!

17:30 is ons terug by die huis.  Ek maak sy kos, medisyne en bottel reg en voer hom.  Hy eet sy hele bord kos op, drink die medisyne en die hele 250ml Nutren Fibre!  18:45 slaap hy weer en 20:30 is hy wakker.  Hy drink 'n bottel tee van 200ml en ek gaan sit hom in die kamer in die bed.  Iets is weer vir hom vreeslik snaaks en ek speel met hom.  Ek maar of ek burp en praat soos 'n eentjie, soen hom en gesels en dit is net te snaaks, hy giggel dat sy asem byna opraak en is later uit asem.  Dis vir eers genoeg en ek maak hom rustig deur by hom te lê en sy hand vas te hou.  Hy maak sulke gilletjies en ek sê hy moenie raas nie, want Amor slaap, toe giggel hy ook!  Sulke tye wonder ek wat deur sy gedagtetjies gaan en hoeveel hy verstaan van wat mens sê of reageer hy net op my stem...

Toe ons die Kerstyd op Bethlehem was, het Mariëtte, my een suster, vir my 'n houer "Bulbinella" room gegee om Henru mee te smeer.  veral vir druksere, maar hy het ook 'n tipe velaandoening so oor sy neus, in die wenkbroue en sy voorkop.  Sedert ek die room daagliks aansmeer, verbeter sy vel.  Ek weet ook nie of dit iets help vir die spastisiteit nie, maar as ek hom klaar gebad het, dan smeer ek dit sommer oor sy hele lyf.

Ek het Diana per e-pos gekontak en haar gevra of sy nie dalk vir my 'n bietjie afslag kan gee op die produk nie en vir haar Henru se situasie verduidelik en ook dat die room baie help met sy vel.  Groot was my skok dat sy nie wou afsslag gee nie, maar vir my 'n e-pos gestuur het dat sy die res van Hneru se lewe elke maand vir my 'n houer van die room sal stuur.  Al wat ek sê is dat ek nie haar "joy" en "blessing" wil steel nie, maar kan net vir haar baie dankie sê vir hierdie GROOT geskenk!  Dankie Liewe Jesus dat daar nog sulke wonderlike mense is wie bereid is om te help.

Vanaand kom die lied van Mark Schulz weer by my op.  Ek het dit lank terug per e-pos van iemand gekry en dis so alles wat mens wil sê in hierdie omstandighede.  Ons kan seker die "mother" vervang met "father" en die "she" met "he", ens.:



He’s my son – Mark Schulz

I'm down on my knees again tonight,
I'm hoping this prayer will turn out right.
See, there is a boy that needs Your help.
I've done all that I can do myself
His mother is tired,
I'm sure You can understand.
Each night as he sleeps
She goes in to hold his hand,
And she tries not to cry
As the tears fill her eyes.

Can You hear me?
Am I getting through tonight?
Can You see him?
Can You make him feel all right?
If You can hear me
Let me take his place some how.
See, he's not just anyone, he's my son.

Sometimes late at night I watch him sleep,
I dream of the boy he'd like to be.
I try to be strong and see him through,
But God, who he needs right now is You.
Let him grow old,
Live life without this fear.
What would I be
Living without him here?
He's so tired, and he's scared
Let him know that You're there.

Can You hear me?
Am I getting through tonight?
Can You see him?
Can You make him feel all right?
If You can hear me
Let me take his place some how.
See, he's not just anyone, he's my son.

Can You hear me?
Am I getting through tonight?
Can You see him?
Can You make him feel all right?
If You can hear me
Let me take his place somehow.
See, he's not just anyone.

Can You hear me?
Can You see him?
Please don't leave him,
He's my son.

Tuesday, February 5, 2013

5 FEBRUARIE 2013

Vroeg opstaan vanoggend.  05:15 gaan die wekker af.  Henru het goed geslaap en is nog aan die slaap toe ek gaan stort.  06:00 maak ek hom wakker, gee sy medisyne en maak hom klaar en ry Unitas hospitaal toe na Dr Lippert se spreekkamer en 07:00 is ons daar.

Hy doen weer 'n volledige ondersoek.  Hy sê Henru se hart is baie rustig en gewoonlik as kinders siek is, is die hart onrustig.  Die longe is hy "oraait" mee, daar is 'n effense bronchitus, maar niks om oor bekommerd te wees nie, maar hy sal nietemin antibiotika gee sodat ons dit kan behandel voor dit vererger.

Die slaap - hy sê ek moet rustig wees daaroor, dit is die resultaat van die brein wat krimp en daar kan niks aan gedoen word nie.  Solank hy rustig slaap en niks probleme andersins het nie, kan ek kalm en rustig voortgaan soos altyd.

Ons gaan terug huis toe en is net na 9 by die huis.  Ek kry sy ontbyt gereed en toe dit reg is, slaap hy.  So in die slaap eet hy sy onbyt - klein happies dat hy nie verstik nie en eet alles op.  Hy drinkook 'n bottel rooibostee met heuning in en hy slaap.

11:30 drink hy weer so in sy slaap 'n bottel rooibostee.

12:46 ... die diepe slaap...



13:00 drink hy steeds sonder om sy oë eers oop te maak 'n bottel Nutren Fibre.

13:15 ry ek en gaan haal sy medikasie by die apteek en gaan haal Amor by die skool.  Net na 14:00 is ons terug en hy slaap steeds.  As mens praat, dan strek hy hom uit, maar maak nie sy oë oop nie.

Ek en Amor gaan gou winkels toe vir kruideniersware en ek gaan sny my hare, gaan laai Amor se vriendin Benine by haar huis af en is net na 16:00 by die huis.  Henru begin wakker word en hoes.  'n Niesbui oorval hom en ek spuit bietjie neussproei in sy neus.  Dit lyk of hy nou erg verkoue is want die traantjies loop sommer uit sy oë uit en sy gesig is bloedrooi, maar as ek met hom praat, dan lag hy.  Hy trek sy neus so op 'n plooi en ek vryf sy neus en oë en hy lag soos hy altyd maak as ek dit doen.  Hy drink weer rooibostee met heuning.

Ek maak vir hom kos - visvingers en gemengde groente met "vegie bake" sous.  17:30 gee ek sy kos en dis asof hy nie die kos vinnig genoeg kry nie en as ek met die teelepel teen die bord se kant die kos skep, dan maak hy al sy mond so groot oop.  Hy eet al sy kos op en ek gee die antibiotika tablet wat ek opgelos het in bietjie water en met bietjie kondensmelk met die spuit vir hom,  Hy drink dit goed, maar gril verskriklik!  Ek gee vir hom so bietjie koffie wat Amor vir my gemaak het met die spuit om die smaak mee af te sluk.

Ek gaan sit die bord in die wasbak en toe ek terugkom by hom toe slaap hy.  Hannes kom sit ook in die sitkamer en ons kyk 7de Laan, maar ek gesels eers op whatsapp met vriende en toe die Kyknet nuus by die sport begin, is Henru wakker.  Hy nies wer vreeslik en ek smeer bietjie vicks aan sy bors en so by sy neus.  Hy drink weer 'n bottel Nutren Fibre en toe ek klaar opgeruim het by sy bed, toe slaap hy.

Amor was kerk toe en toe sy 21:30 by die huis kom nadat een vaan haar vriendinne se pa haar kom aflaai het, vat ek Henru kamer toe, maar hy word nie eers wakker toe ek hom optel, in die kamer neersit en sy doek omruil nie en so slaap hy nou 22:30 nog steeds.  Sy bors klink bietjie beter as vanoggend.


 
oooOOOooo
 
Ek het nog altyd stilgebly daaroor, maar gaan dit nou hier meld want hoekom moet dit so wees?  As iemand dit kan verklaar, sal ek dit waardeeer.
 
Verlede jaar met die operasie se kostes het ek aan sy ma Telma, gevra of sy nie 'n bydrae kan maak nie.  Sy betaal het toe slegs R800 per maand onderhoud betaal vir Amor en geen sent vir Henru nie.  Sy het aangebied om, in plaas van die verhoging wat sy vir Amor moet betaal van ± 10%, met and woorde R880 per maand dan R1000 per maand te betaal.
 
Oktober 2012 het ek Amor se skoolboeke vir die jaar gekoop wat R1638 gekos get asook Amor se Gasvryheidstudie benodigdhede, nl vakbelading en sjef uitrusting ten bedrae van R1295.  Haar skoolfonds beloop R14 500 per jaar.  Henru se rugoperasie het R330 000 gekos en sy stoel R44 885.  Al hierdie fondse moes op 'n manier bymekaar gekry en betaal word.
 
Gister (die 4de) laat weet sy per sms sy het haar rekenaar gelock en kan nie EFT doen nie, sy sal die kontant vandag inbetaal en toe kry ek vanoggend die verrassings SMS dat sy slegs R880 inbetaal het.
 
Sedert Henru die 20ste Januarie 2013 begin het met sy huidige situasie het ek haar elke keer of gebel en persoonlik in kennis gestel of 'n sms gestuur soos en wanneer daar veranderings plaasvind.  Tot vandag toe het sy GEEN navraag gedoen oor hoe dit met hom gaan nie.  Ja, ek is bitter vandag en môre sal dit weer beter gaan, maar watter tipe mens doen dit?  Wat het Henru of Amor aan haar gedoen dat sy hulle benadeel?  Ek het verneem hulle het 'n huis gekoop en is nou op pad op 'n bootreis van 12 dae.  Ek vra maar net en wonder hoe leef sy met haar gewete saam.
 
oooOOOooo
 


Monday, February 4, 2013

4 FEBRUARIE 2013

Ek het 01:00 die lig afgeskakel om te gaan slaap.  Henru was nog rustig, het nie gehoes nie en die bors het goed geklink.

05:30 lui die wekker en Henru word ook net daarna wakker.  Hy is vol geselsies en ek gaan maak vir hom sy bottel met 75ml sojamelk en besluit om weer te probeer om die medisyne met die melk te gee in plaas van die spuit.  Hy neem die tiet gemaklik en drink die bottel leeg.  Ek probeer nog 150ml sojamelk en hy drink dit ook klaar.  Ek gaan maak klaar vir werk en hy is die heletyd op en wakker en 07:00 ry ek werk toe.

13:20 kom ek by die huis en Tebogo rapporteer aan my dat hy wakker was tot ongeveer 09:30 en dat hy twee bottels rooibos tee gedrink het, maar dat hy weer slaap van 09:30 af.  Ek maak hom wakker en is baie bekommerd oor die longe, dit roggel sommer so vol slym is dit.

Genoeg is genoeg en ek bel die dokter om te reël dat hy Henru opneem om die longe skoon te kry en dan ook te probeer vasstel hoekom hy so slaap.  Ek is bekommerd oor die feit dat Roselinah TB gehad het en wil nie so aangaan nie.  Een keer laat weet jy die belangstellendes dat dit goed gaan net om 'n paar minute of ure later weer te laat weet dat daar 'n krisis is.  Behalwe dit, ontstel dit Amòr, maar ook myself en dit is baie traumaties om so aan te gaan.  Ek kan nie konsentreer op die werk nie en bly die heel tyd bekommerd oor hom.  Nou wag ek net om te hoor wat die dokter sê.

Die dokter het 16:00 gebel en gesê ons moet 07:00 môre oggend, 5 Februarie 2013, by die hospitaal wees sodat hy Henru kan ondersoek en kyk wat om verder te doen, anders, as hy hom vanaand al opneem, moet ons 'n ekstra nag in die hospitaal betaal.

Die situasie raak nou bietjie moeilik.  Nes mens se hoop opvlam dat dit beter gaan, dan trap jy op iets wat weer jou voete onder jou uitslaan...

Sunday, February 3, 2013

'n MOEILIKE PAAR DAE

Ek begin 14 Januarie 2013 weer werk en dit gaan goed met Henru by die huis en Tebogo kom goed reg met hom.  Elke dag rapporteer sy aan my presies wat gebeur het en ek kan dit ook monitor op die CCTV wat in die huis is.  Sy doen sy oefeninge korrek, gee sy kos en bottel en ek het niks om oor te kla nie.

Vanaf 18 Januarie 2013 is Henru meer slaperig as gewoonlik, maar hy eet en drink en ek neem aan dat dit die vreeslike hitte is omdat ons 'n hittegolf beleef hier in Gauteng. Wanneer ek Amor van die skool af huis toe bring is Henru oraait, maar steeds baie slaperig.  Vrydag oggend toe ek hom van die kamer af sitkamer toe neem, slaap hy nog, maar toe ek by die huis kom is hy wakker.  Behalwe dit, neem die konvulsies van die epilepsie vir my toe.  Waar dit byvoorbeeld 5 minute geduur het of minder en een of twee keer elke paar dae, begin dit nou elke nag gebeur en stelselmatif word dit langer.  Dit het ook al in die verlede gebeur, maar dan het dit weer beter geword.

Saterdag 19 Januarie 2013 slaap hy lekker en ek kan ook bietjie laat slaap tot ongeveer 10:30 nadat ek sy medisyne 06:00 so in sy slaap vir hom gegee het.  Ek gee sy bottel en deur die dag is hy wakkerder en dis koeler ook, derhalwe dink ek dat dit wel die hitte kan wes wat 'n uitwerking op hom het.

Sondag die 20ste gee ek hom deur die dag sy kos en bottel en alles is normaal.  Die nag kry hy konvulsies wat tot 30 minute duur en dit gebeur drie keer die nag.

Maandagoggend vat ek hom sitkamer toe, maar hy word nie wakker nie.  Ek gaan werk toe en bel kort-kort om te hoor by Tebogo wat aangaan,  Hy word steeds nie wakker nie, maar eet en drink so in sy slaap.  Ek kom huis toe nadat ek Amòr by die skool gaan haal het en bly by hom want hy word nie wakker nie.

Die 23ste Januarie 2013 doen die dokter bloedtoetse om die toksiese vlakke te toets en volbloedtelling en ek weet nie wat alles nie, maar kry niks in die bloed nie.  Sy woorde "Die bloedtoetse se uitslae is pragtig".  So gaan ek maar elke oggend werk toe en kom na skool huis toe, maar ek kry nie gewerk nie, dit vreet aan my om Henru so te sien.  Die dokter vermoed die drukking is verhoog in die brein en moet ek die shunt pomp om te kyk of dit werk en of dit nie help nie, maar niks word beter nie.  Henru word bietjie wakker, maar sy oë draai so in sy oogkaste rond en flikker so en die aanvalle raak meer intens.

Dokter Lippert gee toe nog medikasie, Urbanol, om die konvulsies te probeer beheer.  Ek gee dit vir hom en die volgende dag begin dit betre raak en sedert Vrydag 25 Januarie 2013 ongeveer 14:00 het hy nog nie weer konvulsies gehad nie.

Die verskaffer bel en sê ons kan Saterdag 14:00 die stoel gaan haal.  Ek gee 06:00 Henru se medikasie en hy slaap.  11:30 was ek hom en trek hom aan, maar hy word nie wakker nie.  Ek laai hom in die kar en ry Rivonia toe en hy slaap.  By die verskaffer se spreekkamer laai ek hom af en sit hom op die bed in die spreekkamer neer en hy slaap.  Hulle kry die stoel reg, ons sit hom in die stoel en hanteer hom om al die verstellings reg te kry en hy slaap.  Ek ry met hom by die spreekkamer in die stoel uit en hy slaap, laai hom in die kar, ry huis toe en sit hom weer in die stoel en al die pad slaap hy.  Hy word later bietjie wakker en ons gaan stap met die nuwe stoel, maar hy raak kort-kort aan die slaap.

Sondag slaap hy, maar word met tussenposes bietjie wakker.  Ek gee dan sy bottel en begin kos gee en as hy 18:00 sy medikasie kry, dan sluk hy dit so in sy slaap.

Maandag 28 Januarie 2013 gaan ek werk toe, maar ek kan niks gedoen kry nie.  08:00 bel ek die dokter en die ontvangsdame sê sy sal later terug bel nadat sy met die dokter gepraat het.  Ek bel 09:00 huis toe en Tebogo sê hy slaap nog.  12:00 bel ek weer en hy slaap steeds. Amòr kom vroeër by die skool uit en ek gaan huis toe en Henru is glad nie met ons nie en het in 'n koma gegaan.  Dit voel of ek van my kop kan raak en ons kry niks met Henru uitgerig nie.  Ek en Amor huil oor Henru en ek bel vir Telma om haar mee te deel wat aangaan en haar reaksie is: "Hou my asseblief op hoogte van wat aangaan en as ek by hom kan kom sit in die hospitaal en jy moet gaan werk, laat weet my dan doen ek dit." Eerlikwaar, dink sy ek gaan by die werk sit as dit sleg gaan met hom en hy in die hospitaal is?  Vir 12 jaar pas ek hom op en loop 'n pad met hom, daar is nie 'n manier wat ek by die werk gaan sit en hy sonder my in die hospitaal wees nie.  NOU skielik wil sy by hom kom sit...  Dirk kom hier aan en dis 'n tranedal en hy bid vir Henru en dis net of ek geen rigting kan kry nie.

Die dokter bel later terug en sê dat as Henru nie beter word nie, sal hy hom in ICU opneem, maar as ons eerlik wil wees, ons weet almal wat die prognose is en Henru se brein is erg verkrimp.  Solank Henru gemaklik en rustig is en nie pyn het nie, is dit vir hom beter om by die huis te wees as om in die vreemde omstandighede in die hospitaal in ICU te wees, maar as daar enige verdere probleme is, moet ek nie huiwer om hom hospitaal toe te neem nie.  Behalwe hierdie feite, sal ek steeds by Henru in die hospitaal moet bly om hom te versorg, want, uit al my ondervinding, het ek nog nie by 'n hospitaal iemand gekry wie hom kan kos en bottel gee nie.

"Daar is tye wanneer ons swak, platgeslaan en mismoedig voel! Daar is tye wanneer die lewe ons bitter houe toedien en ons drome reg voor ons oe laat verkrummel, wanneer iets wat ons geglo het gaan uitwerk, verkeerd uitdraai... Moenie opgee nie! Moenie moed verloor nie! Onthou altyd...God is by jou!"
 
Teen 16:00 word Henru wakker asof daar niks fout was nie en giggel en maak geluide en 5 minute later slaap hy weer.  Hus is dus in en uit die koma.  Hy wil toe ook niks meer drink nie en ek begin om vir hom vloeistof met die spuit in te gee om ontwatering te voorkom,  So is hy wakker en slaap en ek wil mal raak omdat dit nie na 'n kant toe kan gaan nie.  Al wat ek doen is bid dat die Here se wil sal geskied en dat ek net krag en genade sal kry saam met my kinders om hierdeur te gaan.  Intussen het hy ook vog op sy longe begin opbou en daarom sit ek hom so in sy slaap so lank as moontlik in die stoel dat hy net kan regop wees en nie die heeltyd lê nie.
 
Die situasie bly voortduur maar teen die 1ste Februarie kom daar 'n wending en is hy meer wakker.

Pos op facebook 2 Februarie 2013
 
Spesiaal aan Hannes, Francois en Amor:
 
Ek lê jou by Jesus se voete neer (Juanita du Plessis)
Ek wens ek kon die pyn vir jou dra
Ek wens ek kon jou seerkry wegvat
Ek wens ek kon al jou vrae antwoord
Ek wens ek kon die wêreld vir jou gee
Maar ek is net ‘n mens en ek is magteloos
hier op my knieë is my gebed:
Ek lê jou by Jesus se voete neer
Hy ken jou vrese, jou twyfel al jou seer
Hy bring lewe en vrede in jou hart
Hy sal jou vashou,
Hy sal jou nooit verlaat nie
Hy’s altyd by jou al maak niks vir jou sin nie
Ek lê jou by Jesus se voete neer.
Dit breek my hart om jou so te sien
Ek weet dat jy dit nooit verdien
Maar vir elke traan wat jy huil, huil ek myne
En dan bring ek jou net weer tot voor die Troon
So as jy alleen en wag in die donker lê en wag
Onthou my woorde want dis Sy belofte
Ek lê jou by Jesus se voete neer
Hy ken jou vrese, jou twyfel al jou seer
Hy bring lewe en vrede in jou hart
Hy sal jou vashou,
Hy sal jou nooit verlaat nie
Hy’s altyd by jou al maak niks vir jou sin nie
Ek lê jou by Jesus se voete neer





DIE GEHEIM VAN VRA
Jy gaan die krag van GEBED ervaar soos nog nooit tevore nie, sê die Here. Onthou my Woord: Julle het nie, omdat julle nie bid nie. Want hy wat bid, ontvang. Die wat soek, vind. En wanneer jy klop, sê die Here, sal Ek vir jou die deur oopmaak. Jy ontdek opnuut die krag van vra. Vra, spreek van jou en My verhouding. Jy vra nooit van iemand wat jy nie vertrou nie.

Ek loof en prys U Here en dank U vir U genade.

...
Ek het die afgelope paar dae nie updates gegee nie, want die een oomblik het dit goed gegaan en die volgende oomblik weer die teenoorgestelde. Sedert gister (1 Feb) het daar 'n totale wending in Henru se toestand plaasgevind.

Hy het ongeveer 13:00 wakker geword na hy die vorige aand teen ± 22:30 gaan slaap het. Met groot moeite kon ons om kry om van 13:00 tot 18:00 250ml te drink. Hy was egter die heel tyd wakker tot ek soos altyd teen 18:00 sy kos gegee het, maar steeds het hy geweier om self te drink. Ek het maar kort-kort probeer dat hy drink en teen 22:15 toe drink hy die bottel sommer leeg.

Vanoggend was hy teen 05:40 wakker. Ek het sy medisyne gegee en hy het met moeite 50ml tee gedrink. Ek het vir hom oats gegee om te eet wat hy maklik geëet het. Daarna moes ek weer aan die slaap geraak het en Mariëtte (my sus) het gebel teen 10:30 en Henru was wakker en vol gesels. Ek het op die CCTV gaan kyk wat gebeur het en gesien ek het teen ongeveer 09:10 weer aan die slaap geraak en Henru was die hele tyd wakker. Ek het hom weer sy bottel gegee, die keer "Nutren Fibre" en hy het die hele bottel binne 10 minute leeg gedrink.

So is hy nog steeds wakker en giggel vir alles wat ek aan hom aandag gee.

Dankie vir almal se ondersteuning met gebede, oproepe, boodskappe en sms'e. Saam met God dra julle ons ook deur hierdie omstandighede. ♥♥♥

oooOOOooo

Sondag 3 Februarie 2013 - ek gee 06:00 Henru se medikasie en hy is so effens wakker.  Ek raak weer bietjie aan die slaap, maar die ander kinders is wakker en sien om na Henru.  09:00 word ek weer wakker en hy is steeds wakker.  hy drink sy bottel en eet sy ontbyt en is die hele dag wakkerder, alhoewel hy soms insluimer.  Hy drink sy bottel normaal en teen 16:00 gaan bad ek hom, gee later sy aandete en alles gaan net te goed.  Teen 19:00 raak hy aan die slaap en is rustig.  behalwe vir die hoesie wat hy so af en toe gee en dan soms bietjie wakker word vir 'n paar minute, slaap hy nou, 23:37 baie rustig en snork sommer.  Daar is geen geluid van slym op die bors nie en al wat ek kan sê is: Dankie Here dat U ons tot hiertoe gedra het en met al die genade geseën het en neem U ons op die pad wat ons vorentoe moet loop.  Ek val in by U plan want U het ons geken nog voordat ons gebore is en weet wat U met ons wil doen.
 
 
oooOOOooo
 
 
'Giving up does not always mean you're weak, sometimes it just means your strong enough to let go.'
 
 
 
oooOOOooo

DIE HERE SORG

My verlof was ook net tot die 4de Januarie 2013 en moes ek die 7de Januarie 2013 weer diens hervat.  Waar gaan soek en kry mens nou iemand om Henru op te pas en te versorg soos wat Roselinah dit gedoen het?  Al die plekke is toe en ek moet wag tot die 2de Januarie 2013 voordat ek kan begin bel.  Intussen maak ek telefoonnommer bymekaar.

Ek kry 'n klomp telefoonnommers van instansies wat sulke versorgers beskikbaar stel, maar kan nie geholpe raak nie.  Almal se pryse is onbekostigbaar duur.

My tannie, Jeanette van der Watt, wie ook hier in Pretoria woon, laat weet my van iemand wie haar ma opgepas het voordat sy oorlede is en ek kontak die vrou, Tebogo.  Sy is in Soshanguwe en kan kom vir 'n onderhoud op Vrydag 4 Januarie 2013.  Sy bel my die oggend en laat weet dat sy nie die omgewing ken nie en of ek haar nie kan gaan haal by die KFC in Ruimteweg nie en ek maak so.

By die huis wys ek haar wat ddie omstandighede is en wat ek van haar verwag en wat sy moet doen en indien sy die werk sou aanvaar, dan word sy op 'n drie maande proef tydperk aangestel sodat ek kan sien waartoe sy in staat is en of sy kan aanpas met Henru.  Behalwe dit, het sy ook nog opleiding in versorging van pasiënte spesifiek met was en voeding, maar omdat Henru se voeding meer intensief is, sal ek haar eers moet leer wat om te doen.  Henru is ook baie sensitief met sy bottel en as die hoek waarmee die tiet in sy mond gesit word nie reg is nie, dan drink hy nie.

Sy sê dat sy die werk aanvaar en Maandag 7 Januarie 2013 meld sy aan vir diens.  Ek het gereël dat ek nog 'n week se verlof sal neem om haar te monitor en te leer met die versorging van Henru.

Die fisioterapeut, Michelle Meintjies, kom die Dinsdagoggend en is tevrede met haar.  Tebogo snap vinnig en verstaan goed wat om te doen met die strekoefeninge van Henru.  Met die voeding gaan dit goed en sy draai hom gereëld om en weet ook van die voorkoming van druksere, dus smeer sy hom dikwels in met handeroom en is ek tevrede sodat ek die 14de Januarie kan teruggaan werk toe.

So is een versorger weggeneem en is 'n nuwe een spoedig in haar plek gekry en dit kan ek alleen aan die genade van die Here toeskryf.  So sorg Hy vir ons en hoef ons nie te bekommer oor die dag van môre nie.

SLEGTE NUUS

Op 14 Desember 2012 is ons na my oom, Hannes van Coller, se begrafnis op Reitz.  Omdat Roselinah van Qwa Qwa af kom en elke keer met die taxi daarheen moet ry, laat ek haar, soos altyd wanneer ons Bethlehem toe gaan, saam met ons ry om kostes te spaar van die taxi.

Omrede ons eers begrafnis toe gaan, laai ek haar toe af op die plek waar die taxi's hulle passasiers kry na Qwa Qwa.  Ons tref ons reëlings dat sy weer die 7de Januarie 2013 sal terug wees vir die nuwe jaar.

26 Desember 2012 toe ons klaar maak om terug te kom Pretoria toe, kry ek 'n oproep van haar oom wie vir my sê dat Roselinah baie siek is en sy gaan hospitaal toe.  So probeer ek maar in die week om met haar self te praat, maar kan haar nie op haar selfoon in die hande kry nie en vind maar by haar oom uit dat dit nie goed gaan met haar nie.

Sondag, 30 Desember 2012 teen 10:30 die oggend kry ek 'n oproep van haar oom met die nuus dat Roselinah oorlede is.  Dis iets waaraan niemand iets kan doen nie, maar dit is steeds 'n groot slag vir ons.  Sy het vir 16 jaar by ons gewerk, nog voor Amòr se geboorte.  Na die egskeiding het sy Maandag tot Donderdag by Telma gewerk en Vrydae by my om te kom stryk. 

Na die ongeluk het sy voltyds weer by my gewerk en het sy in diens opleiding gekry, net soos ek ook, om Henru te versorg.  Sy was baie toegewyd en het alles in haar vermoë gedoen om Henru na die beste van haar vermoë te versorg.

Met die trek Pretoria toe, het sy haar eie kinders in die sorg van haar man en suster in Qwa Qwa gelos om vir Henru te kom versorg.  Nadat haar man ongeveer 5 jaar gelede oorlede is, het haar suster na haar kinders omgesien.

Alhoewel daar dae was wat ons koppe gestamp het oor goed wat sy nie gedoen het met betrekking tot Henru nie, was sy steeds, ten spyte daarvan dat sy geen formele opleiding gehad het nie, baie toegewyd aan Henru en baie lief vir hom.  Daar was baie keer wat daar iets gebeur het wat Henru nie gesond was nie, wat sy lang trane oor hom gehuil het.

Dankie Nina vir wat jy vir Henru gedoen het, maar nie net vir hom nie, ook die hulp vir my en die ander kinders.  Sy was so beskermend teenoor hulle en al het hulle hoeveel kattekwaad aangevang, sou sy nooit by my kom nuus aandra het nie en het hulle altyd beskerm.  Mag sy in vrede rus.



ONS SOEK 'n STOEL

Ons het redelik ver en wyd gesoek vir 'n geskikte stoel om Henru mee te kon hanteer aangesien sy ou stoel glad nie geskik was om hom mee te hanteer nie.  Ek het sommer met 'n mes die stukke wat daar was vir die rug in die ou stoel uitgesny, maar ek kon nie die sitplek aanpas nie.  Omdat die sitplek diep was om Henru te ondersteun, het die plate wat nog in beide sy heupe is, teen die kante vasgedruk en dit het hom seer gemaak.

Ek het op die internet gaan soek en met ortotiste gepraat, maar die stoele vir gestremdes soos Henru is ontsaglik duur.  Ek het tot een kwotasie gekry van R70 000!

Ek het toe Henru se "girlfriend" Lyn Bowker gekontak en sy het my verwys na Gagik Hakopian vir 'n stoel.  Ek het die Vrydag middag hier by die huis gesit en gebel en hulle het 'n stoel beskikbaar gehad.  Gelukkig is dit nie ver nie (Rivonia) en ons het sommer daarheen gery om te gaan kyk want ek moes seker maak die stoel is reg en die moeite werd.

Gagik het ons gesien en die stoel gemeet en gepas en alles verduidelik.  Ons was by hom vir meer as 'n uur en hy het geen kostes vir ons gevra nie.  Die stoel was baie goed en het baie voordele, maar die prys was steeds R44 885.  Dit nadat hy ons 5% afslag gegee het.  Lyn het ook vir my gesê toe ek met haar gepraat het, dat sy Ashley se stoel vir ongeveer R40 000 gekoop het maar dit was 'n jaar of twee gelede.
 
"Ñ Skulpie suig aan ñ hoé rots vas in die see, waar storms & bruisende golwe oor hom slaan. As dit rustig word & die see trek terug, dan sit hy steeds vas aan die rots... So sal ons ook wees, as ons aan DIE HOOGSTE ROTS vashou! Geen lewens-storms sal ons va HOM losslaan nie!"
 
Omdat daar nie fondse beskikbaar was nie, het ons begin met 'n fondsinsamelingsveldtog.  Dirk du Plooy het vir my gehelp om 'n ondersteuningsgroep op facebook te maak en Guillaume Rood, 'n oud kollega op Frankfort, het per e-pos mense genader om fondse in te samel.  Een van my ou skoolmaats, Dawid Momberg, het ons matriekklas uitgedaag om elkeen R100 by te dra en so het ons met almal wie bygedra het, die bedrag van R52 300 ingesamel en kon ek die stoel aankoop.  Ek gaan nie name noem hier van die skenkers nie, want daar is skenkers wie wel hulle besonderhede verstrek het, maar gevra het dat hulle annoniem wil bly oor hulle bydraes, derhalwe respekteer ek dit, maar nogmaals dankie aan elkeen se bydrae. dit maak die lewe vir my en Henru baie makliker.  Nie net vir ons nie, maar ook vir Hannes, Francois en Amòr, want nou hoef ons nie meer elke naweek by die huis te sit nie.  Ons kan ook bietjie uitkom en al is dit nie na 'n spesifieke plek nie, ons kan darem in die middae bietjie gaan stap ook net om bietjie uit die huis te kan kom, selfs al kan ons net in die stoel onder die boom sit.



Susan Mare van die Vrystaat Koerant in Bethlehem het ook 'n e-pos onderhoud met my gevoer en daardeur het nog mense geld vir Henru beskikbaar gestel.

 

Baie dankie aan elkeen wie 'n bydrae gemaak het.  Sonder julle sou ons nou nog nie die stoel gehad het nie.

RUGOPERASIE

Weens die feit dat Henru se een kant sterker is as die ander, trek hy meer oor na die regterkant, met die gevolg dat sy hele rug verkrom het. Ons was Mei 2011 by die dokter en hy het gesê dat hy nie gaan opereer nie, aangesien Henru nog groei en die kurwe is onder beheer met behulp van ‘n stut wat hy dra. Die kurwe is slegs 40° wanneer hy die stut aan het.
Wanneer ek Henru voer, sit hy gewoonlik op my skoot en dan voer ek hom. Donderdagaand, 16 Augustus 2012, is hy baie klaerig. Ek voer hom klaar en sit hom terug op die bed. Vrydagaand is dit dieselfde en Saterdagoggend kan ek hom glad nie optel nie, dan skree hy van die pyn. Ek vermoed toe dat dit dalk iets te doen het met die heupoperasie van April 2011 en dat sy heupe dalk seer is en probeer by Dr. Pretorius ‘n afspraak kry maar hy bel my terug en sê die simptome wat ek beskryf klink meer of dit die rug kan wees en ek moet met Dr. Coetzee praat. Daar kry ek toe eers ‘n afspraak in November 2012, ten spyte van wat ek die ontvangsdame meedeel.
Die Maandag, 28 Augustus 2012 was dit die roudiens van my pa se oudste broer, Oom Henrik. My pa, sy suster en my suster het tot hier by my gery vanwaar ons saam na die roudiens is en voor hulle vertrek terug Reitz en Bethlehem toe, wou my pa se suster 'n foto neem van my en Henru. Ek het probeer om hom vir die wyle vir die neem van die foto op te tel, maar hy het dadelik begin huil. Vir die doel van die foto het ek toe maar die bed opgestel dat hy in 'n half sittende posisie kon wees sodat my tannie ten minste net 'n beter foto kon kry.
Ek bel weer Maandag die 3deSeptember 2012 Dr. Pretorius en deel die ontvangsdame mee dat dit werklik vir my 'n krisis situasie is en daar word toe gereël dat Dr. Pretorius Henru die Woensdagoggend 6 September 2012 om 07:15 sou sien omdat hy self ook 'n knieoperasie moes ondergaan en nie beskikbaar sou wees vir 'n tyd nie.
Hy kry toe niks fout by die heupe nie, maar as mens op Henru se buik druk, dan huil hy en dit is klip hard, direk onder die vel, aan die een kant van sy buik. Hy stuur ons toe vir ‘n sonar en daar word toe vasgestel dat die een nier vasgedruk word en veral as ek hom hanteer, dan druk dit ook op die nier en dit is hoekom hy so seer het. Dr. Pretorius sê toe hy sal met Dr. Coetzee skakel en my laat weet. Ek ry terug huis toe, laai Henru af en gaan terug werk toe en toe ek by die kantoor instap, bel Dr. Pretorius my en sê Dr. Coetzee wag vir ons.
Na die ondersoek sê Dr. Coetzee dat daar so gou moontlik geopereer moet word, want die kurwe het vererger van 40° na 75° en die pyn wat Henru ervaar, is soortgelyk aan nierstene en dit gaan net vererger, want die longe en hart gaan ook aangetas word. Die operasie word toe geskeduleer vir 20 September 2012 vanaf 08:15 tot 12:00.
Ek ontvang die kwotasies en merk dat om die rug te opereer, moet daar in totaal 36 skroewe en 2 stawe in Henru se rug gesit word wat dan die rug sal reguit strek en sy postuur verbeter, die rug verbeter en die borskas spasie sal verbeter.

Die aand voor die operasie.
 

06:00 op 20 September 2012 meld ons aan by die Life Faerie Glen Hospitaal en die Ortotis is die eerste persoon wie Henru kom sien. Hy gee ons sulke wit, styfpassende kouse wat ek vir Henru moet aantrek om te voorkom dat daar bloedklonte kan vorm in sy bene. 

Die volgende is die Narkotiseur en alles is reg met Henru. 08:15 kom haal hulle hom en ons is teater toe waar ek saam ingaan en hom 'n soen gee net toe hy aan die slaap raak. 

Teen 12:00 wag ek voor die teater. Na 'n rukkie kom Dr. Coetzee uit en sê dat alles goed gegaan het. Henru het nie baie bloed verloor nie en hulle is besig om hom wakker te maak. Dit raak al langer en is later amper 12:30 en hulle bring hom nie uit nie. 

Terwyl ek daar staan en wag, gaan die hysbak se deur oop en Telma en Francois stap uit. Telma gaan soek na 'n toilet en net nadat sy weg is, kom roep een van die susters my en sê ek moet 'n teater jas, hoed en skoene aantrek, hulle kry nie vir Henru wakker nie en dalk sal hy reageer op my stem. 

Ons probeer alles, maar Henru wil nie wakker word nie en hulle besluit om hom op die masjiene te koppel en ICU toe te neem.


 
 
 In ICU bly hy steeds slaap en raak nie wakker nie.
Telma bly daar tot 17:00 en hulle gaan na haar ouers op Naboomspruit.


 

Die 21ste September begin hy bietjie reageer en net na 7 die oggend word hy wakker. Telma kom weer so teen 10:30 daar aan tot 13:00 waarna hulle teruggaan Harrismith toe.



Hulle haal later die pype uit en dit gaan beter. Hy wil nie uit die bottel drink nie en eerste moet hy vloeitsowwe inneem. Hulle bring sulke waterige sop wat ek vir hom met die spuit gee. Sy suurstof tel nog nie goed genoeg op nie en net die suurstof pypie bly nog, maar die dokters is tevrede. Dan is daar ook die hemoglobien wat nie herstel nie en daar word besluit vir hom 250ml bloed te gee.



Die ortotiste het intussen sy rugstut ook kom maak met die gipsvorm en bring later die klaargemaakte stut vir hom. Toe die fisioterapeut die middag daar kom, wys sy vir ons om die stut aan te sit om hom te ondersteun en die rug in posisie te hou.



Die middag kry ek darem die eerste effense glimlag. Dit gaan verbasend goed. Daar is geen spasmas nie en mens kan sien dat hy nie seer het nie. Dit was nie naastenby die reaksie wat ek verwag het nie as mens die vorige operasies wat hy ondergaan het nie in ag neem nie.



Later die middag word hy oorgeplaas na die algemene saal waar die fisioterapeut ons ook later kom wys hoe om hom in die stoel te sit. Dit gaan ook uitstekend en hy sit sommer vir ongeveer 'n uur in die stoel en het selfs met tye aan die slaap geraak.




Die 25ste September het hulle die wond kom oop en skoonmaak en elke tweede staple uitgehaal. Daar was 62 van hulle in. Daarna is die wond weer met pleisters toegeplak.




Daar is ook X-strale geneem van my rug met die klomp ysters in. As mens die X-strale dwars draai, dan lyk dit of ek aan die wasgoeddraad hang met wasgoedpennetjies. Ek kon ook baie meer regop sit toe hulle dit geneem het in vergelyking met die eerste keer toe die X-strale geneem is.




Hier was al die dreineringspype en die kateter verwyder en het ons net gewag om huis toe te gaan.



Hier het ons net by die huis gestop. Ek het soveel beter en meer regop in die stoel in die kombi gesit en my kop kon ek ook beter regop hou.




Uiteindelik op my eie bed in die sitkamer by die huis waar ek lekker op my sy kon lê.



En weer lekker in my eie bed kon slaap by die huis die nag. Die "bergie" van my ribbetjie sal blykbaar later bietjie kleiner word.







Die 5de November 2012 gaan ons vir 'n opvolgondersoek by Dr. Coetzee. Hy is baie tevrede met sy vordering en sê dat Henru nie meer die stut langer hoef te dra nie. Nou kan hy weer bietjie sit, maar hy het nie 'n stoel waarin hy kan sit nie, want sy ou stoel is gemaak vir sy krom rug en nou is sy rug reguit en dit gaan nie werk nie. 

Henru kan selfs vir klein rukkies alleen op die bank sit sonder dat iemand of iets hom ondersteun. Ons moet Dr. Coetzee eers weer die 11deMaart 2013 gaan sien om te kyk of alles nog reg is.




Ons was ook weer die 13de November by Dr. Lippert en hy was ook tevrede. Hy het my medikasie verminder deur die Stilnox weg te vat en ook gesê dat ons die Ativan net moet gebruik as ek erge epileptiese aanvalle kry.
Die 21ste November 2012 was ons by Dr. Pretorius en hy was ook steeds tevrede met my heupe die enigste probleem wat daar nou was, was om 'n stoel te kry waarmee ek ook bietjie gemaklik kan beweeg.
Sussa (Amòr) het vir my 'n skapie gegee wat ek darem so in my arm kon vashou.



Ons is vir Kersfees 2012 na Bethlehem waar ons by Tannie Hanlie hulle gebly het vir die tyd. Francois het ook bietjie saam met ons kom kuier en hier sit ek en hy bietjie op die bank in die sitkamer.





Is ek nie te seksie nie? Lekker klaar gebad, tande geborsel en hare gekam.





Friday, February 1, 2013

2012

Gedurende Februarie 2012 neem ek Henru weer na Dr. Pretorius vir die opvolgondersoek met die heupe en hy is tevrede. Ons gaan voort met die terapie en die rugstut wat hy dra.
 
Een kollega van my, Johan Zeelie, vertel kort-kort vir ons hoe hy soms die Vrydag verlof neem, dan ry hy deur wildtuin toe en spandeer nie naweek daar en kom dan weer terug.  Ons bespreek eendag weer sy gereelde besoeke aan die wildtuin en hy vertel my toe dat die SAPD-lede goedkoop akkommodasie in die Kruger Wildtuin kan geniet en gee my toe die nodige kontakbesonderhede.
 
Ek doen toe navraag en dit kos ons net R200 per nag.  Vir 10 nagte sal dit ons dus R2 000 kos en daar is slaapplek vir 8 persone.
 
Ek kontak toe ook my twee susters, Betsie en Mariëtte en hulle wil ook saamgaan met hulle kinders en so help dit ons om bietjie vakansie te kan gaan hou en bietjie weg te kom uit die huis.
 
Ons bespreek die plek van die 1ste Julie 2012 tot die 10de en moet dus die 11de Julie 2012 uit wees. Ons is almal baie opgewonde want ek was laas in 1990 in die wildtuin saam met my gewese skoonouers met die karavaan toe Hannes ongeveer 6 maande oud was en dit was vir my baie lekker.
 
Ons vertrek die oggend van die 1ste Julie vroeg die oggend hier van ons huis in Pretoria en Henru hanteer die ryery daarheen uiters goed en ons arriveer in Satara kamp ongeveer 15:30 die middag. Die volgende dag gaan ry ons die oggend rond en kom terug kamp toe en die middag gaan ons weer ry.
 
Dinsdag die 3de Julie 2012 tref die ongeluk vir Henru. Terwyl ek besig is om sy toonnaels te knip, vervat ek sy voet om die volgende toonnael te knip. Hy is baie sensitief onder sy voete en met die wat ek vervat, ruk hy sy been weg en soos sy been gestut was teen my sy, voel ek iets klap en die volgende oomblik begin hy huil.
 
Ek probeer vasstel wat aangaan en beweeg die heupe versigtig, maar kan niks voel nie. Hy raak effens rustig en toe ek aan sy knie vat, begin hy weer huil. Ek merk toe dat daar 'n effense swelling bokant die knie is en weet: sy been het weer gebreek.
 
Ek bel Dr. Pretorius se spreekkamer om te hoor wat ek kan doen en hy beveel aan dat ek na Nelspruit hospitaal sal gaan waar 'n ortopeed ons kan help. Ek probeer Henru in sy stoel in die kombi sit, maar hy kan dit nie hanteer nie en ek besluit dat ek nou geen ander keuse het as om hom op die sitplek te laat lê nie.
 
Ons maak vir hom bed op die sitplek en ek en Hannes vertrek met hom na Nelspruit. Op pad uit reël ons by die kantoor dat ons kan ry en hulle gee ons toestemming om waar die pad dit toelaat, die spoedbeperking te oorskry en so gaan ons van Satara na die Orpen hek. Waar die pad reguit en die veld oop is dat mens kan sien, ry ek teen ongeveer 80km/h, maar waar dit bietjie meer ruig is, ry ek stadiger want ek is bang daar kom 'n dier uit die veld die pad binne. Dit voel soos 'n ewigheid voordat ons die Orpen hek bereik en daarvandaan nog 'n ewigheid tot by Nelspruit MediClinic.
 
As ek geweet het die diens daar sou so pateties wees, het ek werklik eerder Pretoria toe gery. Ons arriveer ongeveer 12:15 by die hospitaal en gaan na ongevalle waar ons wag dat iemand ons kom sien. Eers moet al die vorms voltooi word en toe die medies die magtiging gee dat dit in orde is, kom daar uiteindelik 'n dokter wie na Henru kyk.
 
Sy verwys ons vir X-strale en na ongeveer 'n uur en 'n half kom hulle met die X-strale en bevestig dat die been gebreek het: weer direk bokant die knie. Interessant was om te sien hoe die vorige breek se merk verskuif het en dit nou ongeveer in die middel van die bobeen is soos die been gegroei het.
 
 
Die dokter deel ons mee dat dit gelukkig 'n "skoon" breek is en dat die ortopeed ons sal kom sien om die verdere behandeling te bespreek. Ek deel haar mee dat Dr. Pretorius wag vir die ortopeed om hom te skakel en versoek haar om Dr. Pretorius se telefoon nommer aan die ortopeed te verskaf. Sy weier om dit te doen en wil nie eers dat ek die nommer vir haar gee om die ortopeed Dr. Pretorius te laat skakel nie, sy volstaan daarby dat ek kan wag tot die ortopeed Henru sal kom sien. My “refs” begin al klaar in die rooi hardloop! Ek bel vir Dr. Pretorius en hy sê dat hy die dokter ken en met hom sal skakel.
 
 
Teen ongeveer 15:30 kom die ortopeed daar aan en deel ons mee dat hy Henru gaan opneem vir die nag en die ortotis sal hom dan die volgende oggend kom sien. Die been kan nie met skroewe geheg word nie, aangesien dit so dun en bros is en skroewe gaan die been net weer laat breek waar die skroef ingeplaas is.
 
 
Hy gee vir Henru 'n voorskrif vir Panado-stroop vir die nag. Ek soebat hom om te help en deel hom mee dat ons met vakansie is in die wildtuin en dat ons graag sal wil terug gaan, maar hy is net so ongevoelig en sê dat Hannes maar in 'n gastehuis of iets kan gaan slaap, maar ek gaan in elk geval saam met Henru in die saal slaap omdat ek hom ken en die personeel hom nie sal kan versorg nie.
 
 
Hulle neem Henru na die saal, maar ek kook behoorlik! Die saalsuster kom later om en ek vertel haar dat ek bitter ongelukkig is oor die situasie en dring daarop aan om met die ortotis te praat. Hy is nog meer ongevoelig en deel my mee dat hy Henru die volgende oggend enige tyd van 09:00 sal sien en dan sal besluit wat hy gaan doen. Ek versoek hom ook om te help weens die feit van die vakansie, maar hy is onwrikbaar. Ek vra of ons nie 'n vaste tyd kan bepaal nie en hy deel my ewe ongevoelig toe "enige tyd van 09:00 tot 16:00".
 
 
Die volgende oggend is die ortopeed teen 08:00 daar en deel my mee dat hulle Henru sedasie medikasie gaan kom gee en dan sal die ortotis hom sien.
 
 
Teen 09:00 kom haal hulle Henru en die ortotis sit 'n spalk aan soos ek nog nooit in my lewe gesien het nie. Dis so vel plastiek of iets wat hy in warm water sit en om Henru se been vorm met so hoek van ongeveer 90º. Hy maak eers die deel van die bo-been en dan die onderbeen en las die twee dan aan mekaar en plak "velcro" daaraan vas. Dan trek hy so kous soos kaasdoek oor die been aan en sit die spalk oor. Dit alles duur ongeveer 15 minute en daarna sê hy net dat ons die res van die vakansie moet geniet.

Net na die ortopeed die spalk aangesit het
en Henru nog onder sedasie was.

 
Ek laai Henru in die kombi en gaan terug wildtuin toe.
 
 
In die wildtuin is dit ongemaklik om met Henru rond te ry en iemand moet maar altyd agterbly as ek uitgaan om na hom om te sien. Ons gaan die week so deur en kyk of dit nie beter word nie, maar dit gebeur nie en ons kom die Sondag 8 Julie terug huis toe.
 
 
Ons volgende afspraak was alreeds gemaak by Dr Pretorius vir die 25ste Julie en dus hoef ek nie weer 'n afspraak te maak vir die verwydering van die spalk nie.
 
 
Die middag van 19 Julie 2012 toe ek by die huis kom, sê Roselinah vir my dat Henru nie lekker is nie en klaerig is. Ek probeer kyk of ek iets sien en skuif die gespalkte been rond totdat dit in 'n posisie is waar dit lyk of Henru tevrede is.

 
Ek gaan maak kos, maar hy bly klaerig. nadat ek sy kos gegee het, probeer ek steeds vasstel wat hom ongelukkig maak en sien aan die onderkant van die spalk dat die kous daar 'n vou in het en dink toe dat die vou hom dalk kan druk.

 
Ek probeer die vou plat vryf deur my vinger onder die spalk in te druk en toe ek so vryf, voel ek dit is nat onder die spalk. Ek en Amor was alleen by die huis en ek vra haar toe om te kom help dat ek die spalk kan afhaal sodat ek kan sien wat daar onder aangaan. Ek is in 'n toestand van skok toe die spalk af is, want onder die spalk het die kous letterlik gemuf!


Ek bel weer vir Dr Pretorius en hy sê dat hy ongelukkig met verlof is in die Natalse kus iewers, maar beveel aan dat ek eerder met Henru na Unitas ongevalle moet gaan dat hulle daarna kan kyk. Hy vra my of ek die kous onder die spalk elke dag vervang het, aangesien die spalk geen ventilasie het nie en die ortotis veronderstel was om aan my genoeg kouse te gee sodat ek dit kon vervang en was.

 
Tot my ontsteltenis is dit die eerste woord wat ek hiervan verneem en is Dr Pretorius net so geskok toe hy dit verneem. Hy vertel my dat ek veronderstel was om elke dag die spalk af te haal, 'n ander kous aan te trek en dan die spalk weer terug te sit.  Die ortotis in Nelspruit het dit nooit aan my vertel nie en ook nie aan my kouse gegee nie. Die gevolg was dat die been gesweet het onder die spalk en dit het veroorsaak dat daar 'n swam gevorm is en nou lyk die been so.


 
 


Ek bel vir Dirk en vra hom om te kom help dat ons Henru by die hospitaal kan kry en weereens, soos by al die hospitale, wag ons 'n ewigheid.
 
 
Ons was ongeveer 21:00 daar by die hospitaal en het eers na 01:00 by die huis gekom. Die personeel was egter baie behulpsaam en vriendelik.  Hulle het die aangetaste deel baie mooi skoon gemaak en bedek met gaas en ek weet nie wat alles nie en gesê ons moes na 3dae weer na die suster gaan dat hulle die "dressing" kan verander en weer skoonmaak.
 
 
Toe dit tyd is vir die skoonmaak, gaan ek na die apteek naby my huis en die apteker, Herman en die suster help my gratis om Henru se aangetaste been skoon te maak en 'n ander dressing op te sit.
 
 
Die 25ste Julie gaan ons na Dr. Pretorius en hy help om die dressing weer te verander, neem X-strale van die heupe en die been en is tevrede dat die heupe nog reg is en die wond op die ander been goed genees. Met die bestudering van die X-strale sê hy weer hoe maklik die bene kan breek om dat dit so dun en bros is.
 
 
Ons gaan weer die 27ste apteek toe en Herman meng 'n salf wat ons elke dag moet aansmeer en die wond genees verbasend goed en vinnig.